My brief in reaksie op die eerste artikel wat in Rapport verskyn het. Daar het ook 'n opvolg verskyn. Kliek op die links en lees gerus self.
Beste Sandra
"Alle stories moet ’n begin, ’n middel én ’n einde hê. Wanneer ’n storie toegelaat word om met onklaar lyne in die winde van die verbeelding te flapper, bring dit moeilikheid." So sê jy in verlede week sê my "Tyd"
Baie waar! Maar waar trek jy nou met jou storie? Die begin is nou gepubliseer en ek weet nie hoe jou middel en einde daar uitsien nie, maar wat ek daar lees bekommer my want dit wil voorkom of jy in die onklaar winde van jou ooraktiewe verbeelding rond wapper! Dalk dink jy, jy het die hele storie, maar jy het nog nie my deel van die storie gehoor nie.
Jou Spookhuis ... my Droomhuis!
Jy is oor een ding reg, sy spook. Sy spook by ‘n mens, die ou Victoriaanse dame wat skuins teen Moonlight hill in Victoria Wes se Oudorp staan. Maar nie soos jou ooraktiewe verbeelding jou laat glo het nie. Laat ek jou vertel hoe sy myne geword het.
Erens sal ons moet gaan woon as die tyd aanbreek om dinge ‘n bietjie rustiger te vat. Ander noem dit seker “aftree”. Die bosveld is verruklik en die see is bekoorlik maar dit is nie goed genoeg vir my siel nie. Die Karoo is eerlik, dit is goedgenoeg vir my en Louis. Hy het vir sy 8ste keer die Groot Fietswedren in die Kaap gaan ry en ons het besluit om oppad terug ons plek in die Karoo te gaan soek.
Gewapen met die laast 4 uitgawes van Country Life het ons by Hanover begin... Murraysburg se gerestoreerde pastorie was idillies ... maar toe ons Victoria Wes inry het ek gevoel of ek by die huis gekom het. Mandie het ons by die Merino restaurant ontmoet en met eerlike entoësiasme oor haar dorp het sy ons huise gaan wys. Die ou mark wat in onbruik is en wat ‘n plein vorm wag net vir lewenslustige siele om die ou gebruike weer te laat herleef. Dit het ‘n paar opsies opgelewer maar die huise was redelik vervalle. Ons is na nog ‘n huis op die verbypad na Loxton maar dit het ons nie genoeg bëindruk nie...en toe eien Louis hom! Die huis op ‘n foto in die Country Life, die een wat so half eenkant staan...die een wat jou die gevoel gee dat jy jou eie stukkie Karooplaas hier besit.
“O, die spookhuis? Jammer, hy is net ‘n maand terug aan ‘n paartjie verkoop wat van die stadsgejaag weg gevlug het”
Louis was teleurgesteld: “Maar dit is hom wat ek wil hê”
“Julle is nou ongelukkig net te laat!”
“Spook dit regtig?”
“Nee wat, die huis het lank leeg gestaan en nou noem ons hom maar so”
Ons is daar weg, teleurgesteld oor die huis wat ons misgeloop het!
‘n Maand of drie later hoor ons weer van Mandie. Die “Spookhuis” is terug in die mark. Mandie stuur foto’s en ek en Louis begin droom. Die huis is “halfpad gerestoureer”, die foto’s lyk goed. Louis maak ‘n aanbod en na so ‘n bietjie gekibbel is die Spookhuis ons sin ... so sommer so...sonder dat ons dié huis regtig gesien het.
Victoria Wes is letterlik ’n volle dagreis van Pretoria af en ons kry eers weer kans om met die volgende Groot Fietswederen in die Kaap na ons huis te gaan kyk. “Halfpad gerestoureer” lyk toe in werklikheid effens anders as wat my positiewe gees my laat hoop het. Maar mooi is sy! Die houtvloer kraak onder my stap en die son skyn helder deur haar vensters die huis in. Die uitsig van die stoep oor die ou dorpie en die kerktoring as middelpunt laat my gees bedaar. Die buurman se windpomp draai vrolik in die droë Karoowind en die boerbokke maak wit stippelties waar hulle van die bopunt van die oorkanste berg met die zig-zag voetpadjie afgestap kom. Hier kan ek aftree!
Die huis sal moet oorgekalk word; die barste reggemaak moet word, want ja, sy loop; die badamer is in ‘n toestand en die dak kort dringend aandag; maar ek kan nie wag om te begin om van die “Spookhuis” my droomhuis te maak nie!
Louis is ‘n intelektuele strateeg wat koerante bestuur met vyf duime aan elke hand. Ek egter is ‘n praktiese mens wat hou van handewerk en mooimaak. Ek het al my sussies se ou erf stukke wat nie meer in nuwe huise pas nie en nou êrens gestoor staan, begin opeis. Sommige nog pragtig, ander met stukkend loodglas en ander met af pote. Maar niks is vir my so lekker as om van niks iets te maak nie en ek het begin restoreer. Die veilings het my elke Saterdag gesien. Elke vertrek se prentjie het begin vorm aanneem en gordyne is versamel , linne is gekoop en die hele huisraad was reg om na Victoria Wes toe te trek! Sy moes intussen ‘n gaste huis word en ‘n oorstaan plek vir ons. Mandie het gehelp, vir Wakkerman en sy span opgekomandeer om reg te staan as ons Desember afkom om te begin regmaak.
Die garage in Pretoia was oorvol met meubels: gerestoureer, half gerestoureer, veiling meubels, maar elkeen het reeds sy plek in die huis gehad. En een Saterdag is die garage leeg en die treklorrie vol. Ons is vooruit om reg te wees as die trek in Victoria Wes aan kom. Vroeg oggend wag ons hulle by die enigste vierrigting kruising op die dorp in.
By die Kooperasie herken hulle ons al as die nuwe eienaars van die Spookhuis en almal daar is dit eens dat Kierie waarskynlik die enigste man op die dorp is wat ons kan vertrou met die loodgieterswerk wat aan die badkamers gedoen moes word en hy is ook die enigste man met ‘n hoog genoeg “scaffolding” om die dak reg te maak. Dit het mooivra gekos om Kierie te laat instem om te help want eintlik doen hy nie meer die soort ding nie. Sy plaas en jag bedrywighede hou hom op sy ouderdom te besig. Maar genadiglik het hy ingestem en onder sy leiding kom die dak toe reg en die badkamer klaar.
Ek, Louis, Marlene en Christi is die volgende Desember weer af om die finale afrondings te gaan doen sodat die Spookhuis nou finaal as “Karoonag” gastehuis in bedryf kon kom. Hierdie twee jong nooiens het in hull hele lewe nog nie so hard gewerk nie. Kaste klaar geverf, stoele af geskuur, kussings oor getrek, en oorgroot skerpioene dood gemaak. Maar wat ‘n wonderlike tyd het ons nie gehad nie! Marlene het ons elke nou en dan tot orde geroep sodat ons net weer so ‘n bietie ons pragtige plek kon wardeer en Christie het gesorg dat ons elke aand net so voor sewe ophou werk om gou ‘n sundowner aan die anderkant van die heuwel te gaan drink en te kyk hoe die die son sak en die dam en die hemel in verruklike kleure verander. Op pad terug het die dorp se liggies al in die skemer begin skyn en het die vrede van die Karoo ons moë lywe kom omarm. Elke oggend het een van ons die koffie betyds gebrou sodat ons die son van die voorstoep af oor die dorp kon sien opkom.
Ons het haar amper klaar gekry. ‘n Mens sal seker in elk geval nooit heltemal met haar klaar kry nie. Een of twee dames op die dorp het al so ‘n bietjie prober help om haar in bedryf te kry maar omdat daar tans baie bedrywighede in die omgewing is en verblyf maar skaars is word sy tans permanent uitverhuur.
So, ja, jou bronne is nie heeltemal reg nie. Tans bly daar ‘n jong vrou stoksiel alleen in jou Spookhuis maar sy sal al binnekort Beaufort Wes toe skuif omdat haar werk haar daarheen neem. So voel vry on vir so dag of twee die ervaring van Karoovrede te gaan beleef in Karoonag.
Groete
Contessa Kruger
No comments:
Post a Comment